Vrugte

My groot voorouers, aan pa se kant, was oorspronklik van Oudtshoorn. Vrugte wêreld. Oorlewering, ek het geen rede om dit, nie te glo nie, wil dit hê, dat oumagroot, verantwoordelik was vir die trek. Sy, het blykbaar genoeg gehad, van sekere van oupagroot, se gewoontes. Soos dit in enige normale huwelik gaan, was daar dalk, meer as een, maar die een wat haar die meeste teen die bors gestuit het, was die feit, dat hy, elke dag, voor brêkfis, ek is nie seker of dit Sondae ook ingesluit het nie, ‘n bottel mampoer, uitgesuip het. As dit ‘n hele bottel is, dan is dit niks anders as suip nie. Ouma,het die groot besluit geneem om pad te gee, weg van die oorvloed vrugte af. Of ouma, Vaalspruit, een van die koudste plase, in die Suid-Oos Vrystaat, uitgesoek het, weet ek nie. Die stook van mampoer, sou nie daar, kon plaasvind nie. My Pa, het altyd gesê, dat hy net die vrugteboord instandhou, sodat die mense, nie moet sê, dat hy te lui is om die bome te snoei nie. Met ons trek, hierheen, het einste Pa gesê, sorg dat jy, ‘n plek, met ‘n waterstroom, koop.

Hier aangekom, Pa se raad gevolg, maar o wee! Naby die waterstroom, is ook naby die plekke waar dit die eerste ryp. Die vorige eienaars, het ons gewaarsku, te koud, vergeet van mango’s, piesangs en papajas. Veral, oor die afwesigheid van mango’s, was ons baie jammer, maar gelukkg is hulle volop in die omgewing, so ook papajas en piesangs. Die mango’s, is iets besonders. Groot, baie lekker en haarloos. Veredel in Brasilië. Kon daarvan, nog nooit genoeg kry nie.

Ons eie vrugte, waarvan daar redelik genoeg is turksvye, dra elke jaar meer,Vye, kry ons ook genoeg van, maar ons moet die voëls voorspring en ‘n vy word gelukkig goed ryp, as jy hom pluk, wanneer hy begin verkleur en avokado’s. Ons lieflings vrug deesdae is die kaki of persimmon. Dit het ons ‘n rukkie geneem, om te weet, wanneer is hy mooi ryp. Deesdae, is dit maklik, voor die voëls hulle deel gryp, pluk ons, sodra daar so ‘n gelerigheid op sy wang is. Wag tot hy mooi bloedrooi en sag is, dan suig jy hom so van sy onderkant af uit. Groot lekkerte. Baie min pit, as jy nou nie so fyn is nie, verorber sommer die skil ook, maar wees geduldig, as hy nie mooi donkerrooi en sag is nie, is dit een van daardie goed wat jou die stomp tande gevoel gee.

Verder, hou ons nog uit met die ingegrendelheid. Dit sal aanhou, tot die 19e April, intussen, met nog ‘n week verleng en so pas gehoor, dat die eerste geval in ons provinsie voorgekom het. Baie sterkte, met die geduld, om dit te oorkom. Verder, is ek dankbaar, vir oumagroot, se vasberadenheid destyds, want, as sy dit nie gedoen het nie, was ons nie daar nie en het die plaas dalk, deur oupa se keelgat, verdwyn. Nee, ek het nog nie oorweeg om te stook nie, want hier is baie vrugte, veral sitrus, wat oorweeg kan word.

Hasta la proxima

2 gedagtes oor “Vrugte

  1. Jy is omtrent in die land van melk en heuning as jy so die vrugte noem en fotos wys. Persimons is ook vir my heerlik. Ek sny hom in die helfte en eet hom met n lepeltjie uit. Hy moet natuurlik nie so sag wees soos wanneer jy dit uitsuig nie. Ek mis ndie lekker mangos. Die wat hier is is smaakloos. Geniet jou vrugte dis baie beter as mampoer stook.

    Like

  2. Dit klink voorwaar na koningskos. Ons kry wel mango’s, avokadopere en piesangs hier, maar teen skreiende hoë pryse. Ons koop dit verkieslik by die “swartmark” en nie by die ketting- of groentewinkels nie. Vars vye is iets wat ek vir die laste twee dekades net in my drome sien. Turskvye het ek laas in Gauteng geëet. As ek die Lotto wen, Coetzee, gaan ek daar by julle kom kuier – in vrugtetyd.

    Like

Praat met my ...